Archive for November 27, 2007

…emosionele intelligensie…

Posted: November 27, 2007 in Uncategorized

 puzzle.jpg

Het jy al van Emosionele Intelligensie gehoor?

Ek ook nie – maar ek het my sopas ingeskryf vir ‘n Emosionele Intelligensie (vir juniors) kursus wat ons maatskappy volgende jaar gaan aanbied.   Aanvanklik het ek gedink as jy emosioneel is en jy is intelligent, dan is jy emosioneel intelligent! Hehehe, toe nou nie! Ek kom ook agter so tussen die lyne deur in my werk dat hierdie emosionele intelligent-faktor ‘n baie belangrike vereiste by Senior aanstellings is. Weet nie of dit net by ons maatskappy is nie – dalk is dit die nuwe “trend”? 

Ek het so bietjie deur die “Alles-in-een-werkboek-vir-optimale-persoonlike-groei” geblaai en op die volgende afgekom!

Wat is emosionele intelligensie nou eintlik?

Dit is ‘n tipe persoonlike en sosiale intelligensie wat die volgende behels:

  • die vermoë om jou eie gevoelens en dié van ander waar te neem, te herken, te verstaan en daarop te reageer (emosionele bewussyn);
  • om tussen verskillende gevoelens te onderskei en dit te kan benoem (emosionele geletterdheid);
  • die vermoë om jou gevoelens toepaslik te kan uitspreek en te kan beheer (emosionele beheer);
  • om na ander te kan luister, empatie met hull te hê en om sinvol te kommunikeer in terme van emosies en denke; en
  • om die inligting te gebruik om jou denke en optrede so te rig dat jy sinvol, gemotiveerd en doelgerig kan lewe (verstaan die verband tussen gevoelens, denke en gedrag)

En wat is die voordele van emosionele bedrewendheid?

  • Jy verkry emosionele selfbewussyn wat daartoe lei dat jy jou emosies kan herken;  jy ken ook die oorsake van en verskil tussen gevoelens en optrede.
  • Dit is vir jou moontlik om ‘n balans tussen die uitspreek en beheer van gevoelens te handhaaf.
  • Daar is ‘n balans tussen jou denke en gevoelens.
  • Jy besef dat jy verantwoordelik vir jou eie gevoelens is.
  • Jy het empatie met die gevoelens van ander en kan dit verstaan.
  • Verbeterde kommunikasie en sosiale vaardighede lei tot gesonder verhoudings met ander persone
  • Jy beskik oor vaardighede om jouself te handhaaf en voorsiening te maak vir die bevrediging van jou eie behoeftes sonder om die regte van jou medemens nadelig te raak.
  • Dit is vir jou moontlik om doelwitte te stel wat jou lewe interessanter en meer doelgerig sal maak.
  • Emosionele bagasie kan agtergelaat word terwyl die toename in energie die nuwe JY in staat stel om nuwe ideale na te streef.

(Uit die Boek : Emosionele Intelligensie deur Drs Ronél le Roux en Rina de Klerk)

Blaas my om met ‘n klein wit veertjie – net die inleiding tot hierdie werkboek het my alreeds slimmer gemaak.  Die mini-me-sielkundige in my floreer op kursusse soos hierdie! “So watch out world” van volgende jaar af kyk ek julle fyn uit!! (LOL!)

Op ‘n skaal van 1 – 10, hoe emosioneel intelligent sien jy jouself?

…Tag…

Posted: November 27, 2007 in Uncategorized

vet_feetjie.jpg 

Ek is ge”tag” deur Wosonki!! Dit beteken dat ek 8 feite oor myself moet publiseer wat die ander blog-maters moontlik nie geweet het nie, en terselfdertyd moet jy weer ‘n paar niksvermoedende slagoffers uitsoek en tag! Hoe kan ek dan nou nie saamspeel nie? Ek sal jou terugkry Jaco!! Elke hond kry sy dag … (hierdie is ‘n baie moeilike lysie!)

Hier gaat ons…

1. (niggie, jy mag nie glo wat jy hier lees of dit aan my ma vertel nie) Ek is ‘n miskien-twee-keer-‘n-jaar-geleentheidsroker! Ek wat so maklik sê rook stink en ek lek eerder ‘n asbak uit voor ek iemand soen wat rook – EK, JA EKKE, rook ook partykeer as die geleentheid hom voordoen. Vandat ons egter probeer swanger raak, is die rookgewoonte summier gestaak!

2. Ek koop graag leesboeke en tydskrifte met die goeie voorneme om als te lees … en doen dit dan eers ‘n jaar (of twee) later!

3. Ek swem nie sommer in die see nie! Die sand in my swemklere gril my verskriklik!!

4. In die kleuterskool het ek my beste maatjie gevloek en met ‘n blompot gegooi, en toe vir die juffrou gesê dit was hy wat my eerste gevloek en geslaan het (witleuentjie)! Hy het die pakslae van sy lewe met ‘n vere-stowwer gekry! Ek dink nie hy het my al ooit vergewe nie!!

5. Ek is DOODBANG vir kakkerlakke!! Nie vir muise, slange of enige ander goggas nie -maar ek het ‘n fobie vir ‘n kakkerlak!

6. Ek was nog NOOIT in die woestyn nie (al is my blog se naam Woestynsand tussen my tone)

7. Ek het my hele skoolloopbaan ‘n crush op ‘n outjie in my klas gehad, maar hy het dit nooit geweet nie! Hy was een van die “in” outjies, en ek heeltemal te koekerig vir hom!! Wonder wat hy vandag met daai info sou maak! (LOL!)

8. Ek het ‘n obsessie met netheid – ek pak my lessenaar by die werk 20 keer ‘n dag reg! Als moet op sy plek en in lyn met iets wees! By die huis moet alle vertrekke ten alle tye netjies wees. Dit wat rondstaan moet gebêre word en skottelgoed moet skoon wees. As ons vakansie gaan hou, moet my tasse onmiddelik uitgepak word en als op die regte plekke staan en georganiseer wees sodat ek gemaklik kan wees en tuis kan voel in my omgewing! Ek sal nie myself as ‘n pyn-in-die-g…t label nie – ek reken ek kan organise sonder dat ek mense irriteer! As my omgewing deurmekaar is, is my kop ook deurmekaar en voel ek verbouereerd!  (Ek werk daaraan om bietjie te relax, want ek weet met kinders gaan my huis altyd in chaos gedompel wees!)

Indien van julle alreeds ge”tag” is – ignoreer my “tag”! Maar die wat nie is nie – doen die regte ding! Ek “tag” vir Da Mario, Boer in Ballingskap, Eben, Jo-Ann, George Maru en Kobus Coetzee!!