Dinsdag, 4 September 2007 (Dag 6)
Hampton Court
Vir vandag se “outings” het ons ‘n motor gehuur! So ons spring die baie georganiseerde openbare vervoerstelsel vry.
Hampton Court Palace was die eerste paleis wat ons besoek het. Thomas Wolsey, toe die Aartsbiskop van York en Hoofminister vir die Koning, het die huurkontrak in 1514 oorgeneem en die 14de-eeuse herehuis oor 7 jaar oorgebou. Wolsey het blykbaar woes spandeer om die mooiste paleis in Engeland te bou, en is hy later forseer om die paleis oor te gee aan Henry VIII, daardie tyd ook bekend as die “pin up prince”, en toe later blykbaar meer bekend as die “oorgewig” prins! Lyk my dit het té goed gegaan met Henry!
Terwyl ons deur Hampton Court met ‘n “audio guide” gelei is, was daar te vertelle dat Henry VIII tot 600 mense per ete onthaal het, en daar is selfs ‘n vertrek so groot soos ‘n skoolsaal, wat spesifiek ingerig was om daardie hoeveelheid gaste te akkomodeer! Ons het ook ‘n toer deur die nagebootste kombuis gemaak en massiewe pasteie met vleisryke vulsels was amper stapelvoedsel! Om nie eers te praat van die liters en liters wyn wat maandeliks ingevoer is vir hierdie partiekies nie! Hampton Court is na Henry VIII ook deur ‘n wye reeks konings, koninginne en ander adelikes bewoon.
Daar is ook genoem van die spoke wat gereeld in Hampton Court hul verskyning maak. Koningin Jane Seymour het in 1537 geboorte geskenk aan Prins Edward, en sy is twaalf dae na sy geboorte oorlede. Daar word vertel dat sy vandag nog op die trappe van hierdie paleis spook! Gelukkig het ons nie enige spooktannies teegekom nie en dit was werklik ‘n interessante ervaring om so deur die staterooms en ook die slawekwartiere te beweeg. As jy mooi konsentreer en jou ore spits, hoor jy nog die vrolikheid van die tot 600 gaste in die majestieuse onthaalkamer en wil jy amper koes vir die geskarrel van dei slawe om als vir ou fris Henry reg te kry.
Hampton Court Gardens huisves ook die wêreldbekende Hampton Court Hedge Maze, wat iewers tussen 1689 en 1695 geplant is – ons het hom met die eerste probeerslag voltooi. Hulle tuine is asemrowend mooi en stylvol en letterlik onkruidloos en ons het ook ‘n wingerd gesien wat 200 jaar oud is en vandag nog druiwe dra! Merkwaardig hoe sekere goed eenvoudig net bewaar is.
Hampton Court huisves ook die wêreld se oudste tennisbaan (Royal Tennis Court) wat steeds in gebruik is en waar die “old game” (dis nou nie tennis soos ons dit vandag ken nie), nogsteeds gespeel word. Hierdie tennisbaan was ‘n toevoeging deur Henry VIII rondom 1525.
Bodiam Castle
Bodiam Castle (ook bekend as die Fairytale Castle) – was sekerlik vir my een van die hoogtepunte wat kastele aanbetref. Alhoewel dit vandag net die oorblyfsels van ‘n kasteel is, kan mens nie anders as om die magic daarvan aan te voel nie! Ek kon eenvoudig net nie ophou staar en natuurlik ophou foto’s neem nie!
Bodiam is in 1385 gebou deur Sir Edward Dalyngrigge, ‘n voormalige Ridder van Edward III, vermoedelik op versoek van Ricard II om die omliggende omgewing teen Franse binneval te beskerm. Volgens navorsing wat onlangs gedoen is, is bewys dat hierdie kasteel meer vir die “show” gebou is, as vir funksionaliteit, aangesien die mure net ‘n paar voet dik is. Baie aandag is geplaas op “comfortable living”, en daarom word sy doeltreffendheid en gebruik vir millitêre doeleindes ook sterk in twyfel getrek.
Hierdie “waterkasteel” is ten volle omring deur water uit ‘n grag. Die kasteel is in ‘n reghoekige vorm met vier massiewe ronde torings op die vier hoeke, en ‘n vierkantige toring wat die middel van die kasteel van weerskante beskerm. Die kasteel-put is geleë in die een toring, en die kapel in ‘n ander (Op die een of ander manier is daar altyd voorsiening gemaak vir ‘n kapel by al die kastele – wonder of hulle baie gelowig was, of doodeenvoudig net baie gesondig het???)
Wat ookal sy doel – nogsteeds die tipe kasteel wat ek as klein dogtertjie van gedroom het waar ek as prinses in die toring vir my ridder op ‘n wit perd sou wag!
Woensdag, 5 September 2007 (Dag 7)
Londen Eye
Die Londen Eye (ook deur sommiges die Millenium Wheel genoem), is ‘n 134m observasie wiel op die Suid Bank van die Teems – wat opgerig is om die Millenium te vier. Die rit rondom die “eye” neem so ongeveer 30minute en wanneer jy heel bo is, het jy ‘n fantastiese uitsig oor die hele Londen. Blykbaar kan jy op ‘n baie mooi dag tot 42 km ver sien (dis nou as jy gereeld jou wortels eet vir die goeie ogies). Dit was great om Londen van bo af te sien – en veral ou Big Ben (en Houses of Parlement) het weer my hart gesteel.
Bootrit op Teems
Na die Londen Eye, is ons op ‘n boot die rivier af na Tower Bridge! Ongelooflik om Londen en al sy brue so van die water af te sien! Heel ‘n ander prentjie wat jy kry en dan kan jy duidelik sien waar die oud en nuut mekaar ontmoet! Tower Bridge is GROOT en OUD (weereens soos als in Londen).
Die Tower Bridge is voltooi in 1894, en bestaan uit twee Gotiese torings wat die meganisme huisves wat die pad tussen die twee torings oplig om groter skepe deur te laat. Die twee torings word aan die bokant met twee wandelpaaie verbind, wat gedurende 1909 en 1982 gesluit was agv hul populariteit vir selfmoordpogings en prostitusie.
Ons het ongelukkig nie die brugpad sien oopgaan nie! 😦
St Pauls Cathedral
“The Great Fire of Londen” in 1666 het hierdie middeleeuse katedraal tot op die grond afgebrand, en Christopher Wren is opdrag gegee om die katedraal oor te bou. Die geskiedenis van St Paul’s is baie interessant, maar hopeloos te veel vir my om nou hier neer te pen. Jy kan meer daaroor gaan lees by http://www.stpauls.co.uk/.
Die groot uitdaging van die dag was die 530 baie styl en baie nou (meestal spiraal) trappies tot by die Golden Gallery te klim. Dis net onder die “latern”, wat die hoogste punt van die “dome” is. Nou ja, vir iemand wat nie juis lief is vir oefening nie – was hierdie 530 trappies een vir een loutere hel! En onthou, as jy die 530 trappies op geklim het, moet jy dit weer afklim ook! My bene het 2 ure daarna nogsteeds gebewe!
Ek weet nie of julle al gehoor het van St Paul’s se “whispering gallery” nie! Wel, kom ek se nou vandag vir julle, ek wou dit nie glo dat as jy aan die een kant van die gallery staan en teen die muur fluister, kan die persoon wat aan die oorkant van die gallery staan, hoor wat jy fluister! Ja, ek weet dit klink onmoontlik, maar dit is nie, ek kon elke woord hoor bo al die geraas in die katedraal! Dit was nogal erg freaky maar ‘n ongelooflike ervaring. Ons kon nie foto’s binne neem nie, so as jul foto’s van die binnekant wil sien, gaan besoek gerus hul website.
Net so ‘n stukkie nuttelose inligting, toe ons uiteindelik klaar is met St Pauls, was dit spitsverkeer in The City of Londen! Letterlik duisende mense wat in erg netjiese kantoordrag na die treine stroom! Normaalweg sou dit ons so ongeveer ‘n uur neem om van die Stad na Southfields te reis. Drie ure later kom ons toe uitgeput by die huis aan!!!