Archive for Januarie, 2007

..Woorde.Dankie.Gesiggie..

Posted: Januarie 31, 2007 in Uncategorized

Ek wonder baie oor die waarde van woorde!  Woorde wat so maklik oor ons lippe vloei! Woorde van vriendskap, woorde van liefde, bemoediging en ja ongelukkig ook woorde van haat en seermaak! Maar het ons vir een oomblik al gaan sit en dink wat ons woorde aan ander mense doen en/of wat dit vir ander beteken. Ek dink nie ons doen dit genoeg nie!!


Ek lees die afgelope paar weke my vriendin se blog en ek sien hoe woorde uit haar gedagtes en deur haar vingers op die blog vloei en ek wonder waar dit alles vandaan kom! Is dit maklik vir jou om jou gevoelens en gedagtes in woorde om te sit? Dit was nog nooit vir my maklik nie, omdat ek van nature ‘n mens is wat nog altyd na binne geleef het! Maar ek het met behulp van Steve se blog deel geraak van ‘n gemeenskap – ‘n vriendekring wat ‘n God-gegewe talent het om te toor met woorde en my op plekke te raak waar ek al vergeet het ek het plekke! 🙂 En toe gebeur die onwaarskynlike, amper soos ‘n wonderwerk en die woorde begin al meer uit my gedagtes vloei, kry die pad na my vingers, eers in die vorm van kommentaar op my spesiale vriendin se blog en later e-posse tussen ander blog-vriendinne en van gister af – my eie blog! Wie het ooit kon dink DIT sal gebeur! En ek het by haar, maar ook by jou geleer om meer van myself te gee, my suinigheid met woorde af te leer en om te sê wat ek voel, wat ek dink, en wat ander vir my beteken! Wat ‘n (amper oorweldigende) bevryding om skielik so baie gedagtes te hê wat woorde word. Swart op wit! Amper soos magic! 

Jy sal seker wonder oor die opskrif van my blog-blad!  Ja, ek wonder ook soms! Maar sonder om te veel van die aap uit die mou te laat – ek het ‘n ding oor die woestyn – al was ek nog nooit self daar nie – het die woestyn vir my ‘n bekoring wat ek nogsteeds sukkel om in my eie taal en woorde te beskryf! Ek kyk na foto’s, lees artikels in tydskrifte en ek slurp enige inligting op wat enige iets met Namibie en die woestyn te doen het! Dis dagga vir my siel!!  Daar is nog een of twee redes hoekom ek so ‘n bekoring met die woestyn het, maar ek gaan nie veel daaroor sê vandag nie – dalk kom jy dit self agter hoe meer ek van myself met jou deel! Dis great om ‘n plek te hê waar ek kan afpak – waar ek my storietjies met omgee-mense kan deel en waar ekself baie antwoorde op onbeantwoorde vrae in my kop kan kry deur die inspirasie en wyshede van jou, wat ‘n bydrae lewer op my blog! So ek vra mooi, moenie skaam wees nie – wees net jouself – hierdie is nie net my spasie nie, maar ook JOUNE! En as die blog nie persoonlik genoeg vir jou is nie – gooi vir my ‘n email en ons gesels daaroor! Ek is seker daarvan ek en jy kan mekaar baie leer van die lewe, die liefde, van seerkry en hoe ons die die swaarkry met lekkerkry lag-lag kan oorkry! Rounelle of Harvey, as jy vandag hier lees, ek het jou hulp nodig met die “head” van my blog – hoe kry ek daai wordpress.com kommentaar af onder “Woestynsand tussen my tone”. As enige een van julle hier lees en kan help, laat weet my seblief, ek sukkel daarmee! J Thanx Nella vir Gesiggie – ek plaas hom hier – want hy is vir ons albei baie spesiaal! 

Al vergeet jy my vir altyd
langs ‘n mylpaal in jou pad
ondersteep jy steeds die prentjies
in die hoeke van my hart
sloop die mure wat en bou
en alles binne hoort aan jou

Leg die kaart van liefde
al neem dit jou ‘n jaar
tot die malmaak van ons briewe
en die oe op ons bedaar
gou gesiggie skud my hand
as die lense vir ons loer
net ‘n oomblik naamloos alhoewel jy in my boer…

Vir elkeen van julle wat sulke mooi woorde gister vir my gestuur het en elke stukkie bemoediging wat ek ontvang het – thanx daarvoor! Dit het my deur ‘n baie moeilike dag gedra en vanoggend kon ek die laaste traantjies van my hart afvee – ek is klaar gehuil!!  Julle is elkeen sulke ongelooflik spesiale omgee-mense en dis ‘n voorreg om jul in my lewe te hê!  Steve en Harvey spesiaal dankie vir jul belangstelling – jul mails was ‘n groot verassing vanoggend! Lekker man! 

Ek hoop jy het ‘n “fantabulous” gatskop dag en dat daar net mooi dinge en vrede in jou hart sal wees. 

Ek hoor graag van die dingetjies wat jou laat “tick”! Wat is die klein dingetjies wat jou daardie ekstra woema in jou dag gee en jou help oorleef!

Praat met my… 

René xx

(PS…ek figure nog uit hoe om prentjies op te sit – all in good time – ek is so klein bietjie tegnologies gestremd – so wees maar geduldig julle outjies!!)

Welkom.Besem “manager”!

Posted: Januarie 30, 2007 in Uncategorized

My blog skop dalk nie op so ‘n positiewe noot af soos ek graag sou wou hê nie, maar vandag is nie ‘n goeie dag vir my nie en ‘n dag wat ek my hart wil toelaat om bietjie “sad” te wees. Dankie Jo-Ann vir hierdie woorde, ek hoop nie jy gee om dat ek jou aanhaal nie!  “Huil was die siel.  Dit is gesond vir jou.  Dit was gif uit wat deur ander mense op jou siel gestrooi is.  Dit was stof af wat eensaamheid laat neersif het.  Dit maak alles nuut sodat nuwe môres kan ontwaak en jou siel kan groei.  En elke seerkry is ‘n boublokkie om van jou ‘n sterker mens te maak.”

Aangename kennis aan nuwelinge, ek is René Boshoff! Die van julle wat my ken, welkom UITEINDELIK op my blog, en in my eerste REGTE post, wil ek die volgende baie spesiale boodskap met julle deel! Geniet dit – en hou hierdie blog dop, hier gaan nog groot dinge gebeur!

Besem “Manager”

Alleen hy wat die onsienlike sien, kan die onmoontlike doen.  Mense is eensaam omdat hulle mure bou in plaas van brue. Ek kom vanoggend so 7-15vm by die werk en sluit die werkswinkel oop en dank God vir die werkswinkel, gesondheid en omdat ek Sy vrede en vreugde ervaar. Die eerste kliënt kom vinnig nader en klim uit sy motor met ‘n koppie Wimpy koffie in sy hand en kla dis nie meer die koffie van ouds nie. ‘n Ander persoon wat ek ken kom van die slaghuis af opgestap met ‘n pakkie vleis en al kouende aan sy biltong grom groet hy so asof dit ‘n stryd is om te lewe.Ek besluit vandag wil ek luister en ek het goed geluister – nou is dit 6-00nm en ek wil jou vertel wat ek vandag gesien en ervaar het – ouens met baie geld kla oor pryse is te hoog, die biltong man sê daar is amper geen vleis op die rakke nie – die ander ou kla oor ou brood en ‘n ander oor ‘n koue hamburger.My suster vra my nou net om ‘n CD te toets en kom agter haar CD speler sal moet skoongemaak word en in Knysna vra hulle R80-00 – nee, sy kan dit nie doen nie want sy het nie geld nie.

Ek vertel jou kortliks wat ek vanoggend gesien en ervaar het.Die mense kla en kla en ek wens hierdie klakouse met wie ek net vandag te doen gehad het kon sien en ervaar wat ek vroeg oggend gesien het – ek wonder waaroor hulle dan sou kla – die een ou kla nog sy hamburger is koud en hy voel lus en gaan druk dit in Steers se bestuurder se ……….. op.

Ek wil iets sê maar my oog vang iemand wat by die slaghuis se asblikke instap, ‘n maer en baie ou kleurling, die afval van die slaghuis lê nou al en gis van Vrydag af en dit het ‘n taamlike reuk. Die baie ou kleurling krap tussen die sakke en ek hou hom dop want vandag wil ek sien hoe hy te werk gaan en wat hy besig is om te doen.Hy tel iets op, hy ruik daaraan en vat ‘n groot hap en sluk dit sonder om te kou – toe hy die tweede hap vat voel dit vir my ek wil opgooi – ek sluk aan my naarheid en stap na hom – more ou man, sê my, wat is jou naam – my naam is Abraham my lanie – nou wat doen jy so vroeg hier tussen die ou vrot goed ou Abraham – ek is honger my lanie – maar ou Abraham, die goed is vrot – ek weet my lanie maar die Jere het nog nie vandag vir my afgegooi nie, maskien Hy is kwaad vir my .

Ou Abraham, hoekom vra jy nie vir geld as jy iets wil koop om te eet nie . Ek het my lanie maar daardie man, en hy wys na die biltong eter, hy het my amper netnou gaslaan, hy sê ek moet voetsek – ou Abraham vee oor sy mondhoeke om dit te probeer skoon kry.Ek bekyk ou Abraham en wonder hoe oud is hy. Hoe oud is jy Abraham – 78 my lanie – waar bly jy Abraham – daar bo teen die berg (dis 8Km) – en jou mense ou Abraham ?? Net my vrou bly by my mar sy bene kan nie meer werk nie nou kan sy nie uit die huis nie – kry jy oumens pension Abraham – nee my lanie nog nie maar Mandela sal nog plan maak so ek wag maar vir hom – Abraham se broek is nie meer ‘n broek nie – sy skoene het nie sole nie – iets aan sy lyf wat dalk lank terug ‘n hemp kon gewees het – Ek vra in my binneste – Here, wat nou, maar ek kry geen antwoord nie, ek hoor niks.Ou Abraham, ek dink regtig nie die Here het van jou vergeet nie – ja my lanie – die ou oë is glasig en dof, sy kop hang al vooroor soos hy jare lank al probeer om naby hom te sien – die vullis wa trek in om die vullis te verwyder en die manne verskreeu ou Abraham.

Waarnatoe gaan jy nou ou Abraham – ek gaan brood soek om huis toe te vat my lanie – ek het klaar ‘n kannetjie vir die water. Ou Abraham het ‘n glimlag om sy geplooide mond – as my lanie wil kan ek ‘n besem bestuur en die plek mooi skoon vee (ek dink by myself, “is dit nou U wat deur Abraham praat”) Ou Abraham, is jy seker jy het ‘n liksens om die besem te bestuur – ja my lanie, my vrou het dit vir my gagee toe sy bene siek geword het – is goed so Abraham, die mense jaag jou oral maar vandag het die Here jou ‘n groot werk gegee – jy is van vandag af die general manager van die besems, jy is die baas van die besems, hierdie besems gaan vir jou koffie gee in die plek van water, ‘n manager moet ook mooi skoon aantrek en ‘n geldjie hê vir die ou vrou by die huis, ek sien jy is ‘n man wat ons nog baie in die toekoms kan leer oor die lewe ou Abraham – moet ek elke dag inkom my lanie – ja Abraham want Vrydae moet jy ‘n lekker Wimpy ontbyt eet maar besem managers werk net van 8 – 11 want besem managers het tyd nodig vir hulle siek vrouens – is reg so my lanie, ek sien nou die Jere het ‘n ander plan gahad vadag en ampor dink ek Hy het my en die ou vrou vageet, jammer Jere omdat ou Abraham nie reg vastaan het nie.

Ek is die Here my God so dankbaar vir iemand wat nie oor biltong kla nie, iemand wat nie oor leë rakke in die vleismark kla nie, iemand wat oor koue hamburgers en koffie kla nie. Ek is my Vader so dankbaar dat Hy ou Abraham nie vergeet het nie.

Doen my, jouself en ander ‘n guns – probeer net een dag niks kla nie want ou Abraham was vandag vir my so ‘n groot inspirasie terwyl hy ou bloed uit sy mondhoeke gevee het maar nog steeds glimlag die 78 jarige half blinde man met toiings aan sy lyf. En ek sê met trots – vandag het ek ‘n waardige, my beste ooit, besem bestuurder gekry, jy moet dit sien om te glo, hy vee bo oor die vuilis en sien dit nie raak nie maar vee, vee hy – die Here is vir ons so goed en as ek voel dit druk kyk ek na my besem bestuurder ek weet – ek het niks om oor te kla nie. 

“Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop”

Dankie tot môre…

René xx 🙂