…londen dag 4 en 5…

Posted: September 5, 2007 in Uncategorized

Sondag, 2 September 2007

Kew Gardens

kews-waterlelie.jpg  kew-tuin.jpg  kew-palace.jpg  kew-bosnimf.jpg

Kew Gardens, op die rivierbank in die suide, is die mees volledige botaniese tuin in die wereld, word fouteloos in stand gehou, met voorbeelde van omtrent elke plant wat in Britanje KAN groei. Nie net britse plantegroei nie, maar daar is ook ‘n spesiale seksie waar Suid Afrikaanse spesies geplant staan.  Kew Gardens huisves ook die rooibruin-amper-pienkkleurige Kew Palace, die gesinswoning van George III tussen 1880 en 1888. Daar is ook ‘n verskeidenheid kweekhuise in die ongeveer 140 hektaar tuin. Dit neem omtrent 3 ure om die hele tuin per voet plat te stap, maar daar is darem ‘n trokkie wat toeriste op ‘n round trip vat. Ons het die stap opsie geneem, maar het amper nie eers driekwart van die tuin deurgestap nie! Dis eenvoudig net te groot.

SA Gemeente

sa-gemeente.jpg  sa-gemeente-2.jpg  sa-gemeente-3.jpg

Met ons dapper staptog deur Kew Gardens, het ons heeltemal uit tyd gehardloop en Oxford Street uitgestel vir ‘n ander dag! Ons is toe met moeite per trein na Holborn Stasie en toe verder per voet so ‘n paar blokke aan tot by die SA Gemeente … en ons het dit net-net gemaak! By Holborn Stasie was daar nie rolstoel fasiliteite nie en arme Arno moes vir Oom Charl by die trappe af abba, weer by die rolstrappe optel en aftel en so het ons sukkel sukkel gesuiker tot ons uiteindelik by die uitgang gekom het! Wat ‘n drama, want om gestrand te wees op ‘n Underground en nie te weet hoe jy weer bo die grond kom met die rolstoel nie, kan nogal drama veroorsaak!  Maar ons het dit toe gelukkig gemaak!

Dit was so lekker om weer tussen Suid Afrikaners te sit, afrikaanse lofliedere te sing en na ‘n afrikaanssprekende predikant te luister. Dit het vir ‘n kort oomblikkie gevoel ons is weer by die huis!  Dit tydjie in die kerk tussen die ander Saffas was net te kort en na ‘n uur was ons weer op die bus Southfields toe. By Putney moes ons weer busse verander en besluit toe sommer op die ingewing van die oomblik om weer in The Railway te gaan eet, wat toevallig ‘n kort entjie van die busstop was. Die kos was lekker, die bier welkom en die waiter ‘n Portugese Stallion met ‘n growwe, goue stem! Sag op die oog… (LOL).

Weereens was my bed ‘n welkome gesig na so ‘n lang dag se tuinstappery! Maar dit was lekker……..

Maandag, 3 September 2007 

Harrods

 harrods11.jpg  harrods2.jpg  harrods3.jpg

Wat kan ek van Harrods se wat nog nie van Harrods gese is nie … dis baie groot, dis baie classy, en dis BAIE duur!!!

By die ingang is daar ‘n huldeblyk aan Diana en Dodi Fayed en bewonderaars kon blomme op die sypaadjie vir hul los. Daar was ook ‘n boek waarin jy jou naam en ‘n boodskap kon skryf, en my naam staan nou in daardie boek … vir altyd! Vir my was dit ‘n groot voorreg en eer om my naam in die 10 jaar herdenking van die Princess of Wales boek te skryf! Nadat al die formaliteite afgehandel is, het ons koers gekies om Harrods te gaan ontdek! Ek kan nie dink dat ek al ooit sulke hoe pryse op eenvoudige items gesien het nie. ‘n Houtlepel wat 9 pond 99 kos (R148,85) was my einde … en ek het net daar besluit … ek wil NOOIT ryk wees nie, en ek gaan ook nooit kla oor die pryse van items in Suid Afrika se winkels nie. Net nou die dag het ek presies dieselfde houtlepel gekoop vir R7.00! Dis werklik belaglik – en maak nou nie saak WIE daar inkopies doen nie, dis darem nie nodig om die hoender so te ruk nie!! Nou ja, die rich and famous kla nie daaroor nie, so ek sal ook maar my opinie vir myself hou! Ek kon darem ‘n klein aandenking’tjie koop om saam te vat huistoe, maar ek moes maar oe toeknyp en betaal!

Volgens die geskiedenisboeke, het Henry Charles Harrod in 1849 ‘n klein kruideniersware winkeltjie in Brompton Road oopgemaak, wat vinnig bekend geword het vir sy uitmuntende diens en kwaliteit produkte. Gedurende 1905 het die “winkeltjie” geskuif na die extravagant perseel in Knightsbridge. (hehe, ek reken dit was ‘n duur trek, hulle sukkel nou nog om die verband en trekkostes te verhaal…)

Victoria & Albert Museum

va.jpg  va-nimf.jpg  vabed.jpg  va-beelde.jpg

Weereens, soos omtrent als in Londen, is dit groot en oud!!

Geskiedenis : Die V&A huisves een van die wereld se wydse verskeidenheid kuns en ontwerp, wat strek van vroee Christelike items en die mistieke kuns van Suid Oos Asia, tot die nuutste meublement ontwerpe!  Die museum is oorspronklik in 1852 tot stand gebring as die “Museum of Manufacturers” om ontwerp-studente te inspireer.  Dit is gedurende 1899 herdoop deur Koningin Victoria ter nagedagtes van Prince Albert.

Dit was nogal ‘n ervaring om daardeur te stap en al die ongelooflike kunswerke te aanskou, alhoewel ons nou vas glo dat die marmervloere magnete inhet, omdat mens so moeilik op die marmervloere stap! En niggie het gevoel sy moet ‘n stukkie van die V&A se ingangstrappe vir haarself toe-eien! Gelukkig was dit nie ‘n harde val nie en was sy vinniger op haar voete as wat mens kan se “mes”!

Natural History Museum

nathistory.jpg

Dis ‘n museum wat enige kind MOET ervaar. Dis ‘n “touch and experience” museum waar kinders die basiese ekologie en ontwikkeling van ons planeet, die oorsprong van spesies en die ontwikkeling van die mens eerstehands met behulp van moderne tegnologie en interaktiewe tegnieke leer ken! Van Dinosaurusse, dwarsdeur tot ‘n nagebootste aardbewing en ‘n voorstelling van ‘n tier wat ‘n bokkie opgevreet het… jiggie! ‘n Britse dogtertjie – ek skat haar so 4 jaar oud, het baie vererg en in hoge Britse engels aan haar mamma genoem … “I can’t even look at that” en terwyl sy weghol – “I cannot believe they show that to children”! Dit was te dierbaar vir woorde!!!

Geskiedenis : die museum is in 1881 geopen, en dit word as die mees flambojante katedraal-tipe argitektuur in South Kensington beskou.

Grease — Mamma Mia (West End)

grease.jpg  mamma-mia.jpg  piccadilly.jpg

Ons het die dag afgesluit met ‘n baie spesiale vertoning, en die eerste in sy soort vir my en oom Charl en tannie Mimi! Niggie, nefie, oom Charl en tannie Mimi het Grease gaan kyk en ek het myself gaan vermaak met Mamma Mia by West End! Dit was voorwaar uit die boonste rakke, en sienende dat ek ‘n ABBA-fan is (mag ek dit hard se?) het ek dit ongelooflik baie geniet! Die akteurs was briljant en ek die choreography baie goed! 

Grease se hoofkarakters is gespeel deur Susan McFadden en Danny Bayne, wie die wenners was van die Britse realiteitsprogram “Grease is the Word”. Ek sou aanvanklik nie ‘n show gaan kyk nie, aangesien dit nogal redelik duur is, maar ons kon darem met al die besparings agv die afslagpryse vir die rolstoelryer, darem ‘n paar pond bymekaarskraap om vir my ook ‘n kaartjie te koop! Grease was vol bespreek, maar ek met graagte ingestem om eerder Mamma Mia te gaan kyk! Ek is BAIE dankbaar ek het dit gaan kyk – en ons was almal op so ‘n high, dat ons nie kon slaap voor 00:30 nie! (Die foto regs is die baie bekende Piccadilly Circus advertensieborde met Eros (cupid-tipe beeld) in die voorgrond … ‘n baie gewilde, bedrywige en lewendige inkopie-area in West End)

Kommentaar
  1. Pragtige foto’s! Sjoe, julle is besig en uit dit lyk asof jy jou gate uit geniet. Ja, jy gaan dinge ervaar waaraan jy vir baie lank gaan herkou. Ek is bly jy hou so lekker dagboek daarvan – waar kry jy die tyd? Ek is seker die internetkonneksies daar is briljant!

    Mooibly!

  2. kaalvoetkind sê:

    Dankie vir die update! Mooi foto’s. Lyk of julle dit baie geniet en onthou daar’s baie tyd om op die vliegtuig te rus as jy terugkom.🙂

  3. Da Mario sê:

    ‘n Portugese waiter wat sag is op die oog met ‘n growwe goue stem mmmm?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s