Archive for Augustus 19, 2008

…digkuns van ouds…

Posted: Augustus 19, 2008 in Uncategorized

Wat het van Afrikaanse digkuns geword? Daardie digkuns waarmee ons ouers en voorouers grootgeword het? Ek vang soms my skoonpa dat hy nog aanhaal uit hierdie gedigte, en dis vir my só ONTSETTEND mooi!

Ek loop nou die dag op Williston ‘n juweelboek raak … Afrikaanse Verse (5de Uitgawe/1942 deur DF Malherbe) … en hierdie pragtige gedig van CM van der Heever (Die Nuwe Boord), vang my oog.

EK BOU DIE PALEIS VAN DIE LEWE

Ek bou die paleis van die lewe
met my kragte deur arbeid gewin,
maar dis of ek huiwerend bewe
as ek telkens weer oorbegin.

So dood-sekuur lyk my die lyne
waarlangs ek my stene moet bou
maar later teleurstellingspyne:
waar is my verwagtinge nou?

En telkens kry ek ‘n spoortjie
en glo: ja, nou is ek reg,
maar soos in ‘n dorre ou voortjie
sink die water van vrugbaarheid weg.

Gedurig weer ‘n gedagte:
ja, eind’lik, nou het ek hom,
maar later verslap weer die kragte;
sal ek ooit by my einddoel kom?

Sal ek maar met sidd’rende hande
nog boustene bring en dan sug:
al tas ek verward langs die wande,
miskien sien ek eenmaal die Lig?

Ek bou die paleis van die lewe,
ek begin weer van voorafaan;
dalk sal op die end van my strewe
net lewensmurasies daar staan.

(Foto: René Boshoff) :mrgreen:

Advertisements