Archive for Junie 2, 2008

…eina pyn!!…

Posted: Junie 2, 2008 in Uncategorized

Ek is as ‘n reël nie bang vir tandartse nie!

Nee genuine nou – ek is baie gesteld op my tande, so ek sien ‘n tandarts as my vriend, en nie my martelaar nie! Ek hou nie van gatjies nie en ek hou nie van geel vlekke op my tande nie! Ek borsel elke oggend en aand, ek doen die mouthwash en dentalfloss en al daai -dinge! Ek gaan ook baie min na ‘n tandaarts toe – nie oor ek hulle haat soos 99,9% van mense wat ek ken nie – maar dis eenvoudig net nie nodig nie!

So ‘n maand gelede voel ek ‘n steekpyntjie in die een kiestand! Steur my nie veel daaraan nie en gaan toe maar so voort! Kom toe later so met die tonglangs agter dis nie net ‘n steekpyntjie nie – die tandemannetjies het hulle kapwerk ordentlik gedoen en ‘n piepklein gaatjie loer vir my! Nie klein genoeg dat daar nie kos kan ingaan nie – maar geen pyne nie! Ek los toe maar vir eers, heeltyd met die gedagte in die agterkop dat ek tog die onvermydelike moet doen en Dok Tande moet bel vir ‘n afspraak, al pla die tand nie en al is dit glad nie eers seer nie!

Nou ja, op ‘n dorpie soos Malmesbury sal mens nou nie dink daar is so baie mense met soveel tande kwale nie – maar by my tandarts is dit omtrent ‘n storie om ‘n afspraak te kry! Nie oor hier min tandartse op die dorp is nie – maar omdat hy so goed is met wat hy doen! My skoonfamilie ry uit alle oorde om hul tande op Malmesbury te laat versorg en die kids is ook mal oor hom! By hom is daar nie iets soos seer inspuitings nie – voor jy nog jou sit kan kry – sit jy met ‘n pragtige skitterwit stopsel!

So was manlief vir Maandagoggend 09:00 geboek vir ‘n afspraak, maar kon ‘n verskoning uitdink om die afspraak te kanselleer! Ek daag toe maar sommer in sy plek op – probleem opgelos, ek hoef nie ‘n maand te wag om ‘n afspraak te kry nie!  Ek stap toe heel rustig daar in, geen stress of worries of enige pyn nie – plaas myself mooi op die stoel en sê vir ‘n uur AAAAAAA! Dok Tande het sy reputasie gestand gedoen en ek het niks gevoel nie en stap ‘n happy pasiënt daar uit!

Nou ja, so is kies tandjie toe gestop en alles is weer hunky dory!! Mmmm…toe nou nie! Hier teen Donderdag is daar ‘n vreeslike geklop in my mond – amper so iets soos ‘n tande mannetjie wat agter die stopsel vasgekeer is en sy pad oop wil grawe met stomp naeltjies! Ek steur my toe nie veel nie want die geklop kom en gaan saam met ‘n koue koeldrank of ‘n slukkie water!  Ek kou eerder aan die ander kant! Hier teen Saterdagoggend grawe daai mannetjie met alle mag sommer met sy stomp toonnaeltjies ook! My enigste hulp op daardie stadium was die houertjie Brufens, wat met intervalle die pyn kon verlig! Slaap was egter min! Klaasvakie is duidelik erg bang vir tande mannetjies!

Sondagaand het daai tande monstertjie my toe behoorlik aan die keel beet! My hele gesig pyn, my ore pyn, my nekspiere is seer, my kop is seer – ek loop letterlik soos ‘n beer met ‘n seer tand in die huis rond! Van die een pyn pil na die volgende – dat ek later begin bekommerd raak dat ek dalk ‘n “overdose” kan neem! Maar die pyn wyk nie – die mannetjie martel my al met ‘n stomp pik en probeer nou sy pad oopgrawe deur my kakebeen! Maar ek hou uit! (Weet julle wat dit kos om ‘n tandarts na ure uit te roep???)

Vanoggend – vir ‘n tweede Maandag in ‘n ry – is my eerste oproep na Dok Tande toe! Geluk en nood is aan my kant en Dok Tande het vir my ‘n uurtjie oop! Toe ek in daai spreekkamer instap – toe is ek bang! Want ek het al die een marteling na die ander in my kop begin uitdink! Ek kon al voel hoe trek daai Dok my kiestand sonder om hom dood te spuit! My ergste nagmerrie kon vanoggend waar word en dit sou nie erger as die naweek se pyn wees nie en met groot oë vir Dok, plons ek myself in daai stoel neer! Skytbang maar gereed! Ek het vir Dok Tande mooi laat verstaan, as hy beplan om my seer te maak – moet hy dit maar eerder onder narkose doen – want vandag is ek BAIE broos!!

Nou ja, om ‘n lang storie kort te maak – ‘n uur en ‘n half later is kiestand se senuwee (en hopenlik die irriterende tand monstertjie ook) verwyder en sit ek met ‘n ander man se mond vir ‘n paar ure!  Die lewe het nou eers begin terugkom – maar daar is geen sprake van pyn of grawende tand monstertjies nie!

Ek is weer myself!!

NS…Daar is net een ding van tandartse wat ek nie kan verstaan nie – hoekom vra hul vir jou vrae wanneer jy met sy hele spreekkamer se voorraad instrumente in jou mond sit?

Advertisements