Archive for Maart 11, 2008

P.S. I Love You

Posted: Maart 11, 2008 in Uncategorized

Ek het nooit gedink daar sal weer ‘n fliek gemaak word wat Message in a Bottle van sy nommer een status op my gunsteling-fliek lysie sal onttroon nie! Maar helaas … ek was verkeerd!

Ek het die naweek my “aanneem-student” en haar vriendin so ‘n bietjie weggelok van die boeke en take om ‘n lekker chick-fliek te gaan kyk by Canal Walk!!

ps5.jpg 

Holly Kennedy (Hillary Swank) is beeldskoon, intelligent en getroud met die liefde van haar lewe – ‘n passievolle, skreeusnaakse en impulsiewe Ier genaamd Gerry (Gerard Butler), wie sy op 19 jarige ouderdom as student in Ierland ontmoet het toe sy in ‘n natuurreservaat verdwaal het!  Wanneer Gerry sterf aan ‘n breingewas, bly daar nie veel vir Holly oor om voor te lewe nie en sy sonder haarself vir omtrent drie weke in hul klein beknopte woonstelletjie af! Niemand het vir Holly beter geken as Gerry nie, so dis ‘n goeie ding dat hy vooruit beplan het! Voor Gerry sterf, skryf hy 10 briewe vir Holly wat haar leiding sal gee, nie net deur die rouproses nie, maar ook om haarself weer te vind!

Die eerste boodskap arriveer op haar 30ste verjaarsdag in die vorm van ‘n verjaardagkoek en tot haar groot skok, ‘n bandopnemer met ‘n boodskap van Gerry, wat haar aanmaan om die aand van haar verjaarsdag uit te gaan en haarself te geniet!  En die weke en maande wat volg, word meer briewe van Gerry op die snaakste plekke en maniere aan Holly afgelewer, wat haar elke keer op ‘n nuwe avontuur en voor nuwe uitdagings plaas! Elke brief word afgesluit met PS I Love You! (*sug* – so romanties – *groot sug*)

Holly se ma en haar beste vriendinne (“Denise” Lisa Kudrow en “Sharon” Gina Gershon) raak bekommerd dat Gerry se briewe Holly laat vashou aan die verlede, terwyl dit haar inderwaarheid aanhelp om ‘n nuwe toekoms vir haarself te bou!  Met Gerry se woorde as haar riglyn, gaan Holly op ‘n self-ontdekkingsreis in ‘n romantiese storie van getroud wees en vriendskap en hoe ‘n liefde wat so sterk was, haar help om oor te begin en oor die liefde van haar lewe se dood te kom!

Daar is baie skreeusnaakse oomblikke, maar as jy soos ek geneig is om maklik deur jou ogies te piepie – vat maar ‘n tissue of twee saam!!  Die “cast” is myns insiens uitstekend en elke akteur pas vir my perfek in elke rol! En die baie bekende en beeldskone Hillary Swank en super aantreklike Gerard Butler (wat ook die rol van King Leonidas in 300 gespeel het!), maak dit ‘n fees vir die oog!

Hierdie fliek was vir my “baie naby aan die huis” aangesien ek en manlief ook al tien jaar saam is en ek een van die dae 30 word! Die enigste vraag wat oor en oor in my kop afgespeel het terwyl ek die fliek gekyk het, is wat gaan gebeur as hy nou onverwags weggeneem word van my! Negatiewe gedagtes in ‘n mate ja, maar ook realiteit, want dit kan so maklik gebeur!!

Ek moet bieg, dit het my baie gehelp om so bietjie verby manlief se nukke en grille te kyk en weer sy goeie punte raak te sien en te waardeer!!

PS I Love You is gebaseer op ‘n boek geskryf deur Cecelia Ahern! As jy die kans kry om dit te gaan kyk – doen jouself die guns … en sleep jou man (of vrou of geliefde) saam!!!!

Uit die mond van Gerard Butler … “[During] some of the most miserable periods of my life, people thought I was very happy. And now that I’m actually happier, I don’t have to show it. I’m more comfortable with myself.”

Advertisements