…williston…

Posted: Junie 25, 2007 in Uncategorized

Ons was bietjie die naweek by my ma en stiefpa op Williston! Nou vra driekwart van julle seker Waar is Williston??!  Williston is ‘n klein karoodorpie tussen Calvinia en Canarvon! (Van Malmesbury af ry jy met die N7 tot op Vanrhynsdorp, daar draai jy af, ry deur Vanrhyndorp, met die Vanrhynspas tot bo-op die berg, verby Nieuwoudtville, deur Calvinia en 114km verder ry jy letterlik in Williston vas). Moet egter nie te vinnig deur die dorpie ry nie, daar is een stopstraat in die hoofpad en ‘n Hotel waar jy ‘n lafenisse kan gaan maak. Sou jy nie gou genoeg remme aanslaan nie, sal jy dalk in Brandvlei op-eindig!  Williston het slegs 2 teerstrate! Die eerste waarmee jy die dorp binnegaan, en die tweede kruis die hoofstraat en loop verby die Kerk en Poskantoor!

Daar het die oulikste B&B oopgemaak so ‘n rukkie terug met name Die Vlieënde Piering! Die Vlieënde Piering bied die volgende : karoo akkomodasie teen R150 vir ‘n enkelkamer en R300 vir dubbel, en jy kan ‘n huisie huur vir R600 per nag met slaapplek vir vier (go figure)! Daar is ‘n woelpoel (Karoo Jacuzzi) waar jy kan afkoel, en saans sorg die plaaslike gemeenskap vir ‘n bietjie entertainment in die Junkyard Theatre! Die hele “werf” is versier met items uit toeka se dae, meestal versamel uit die plaaslike gemeenskap (as ou trommels en katelbeddens jou nie interesseer nie, sal dit vir jou meer na ‘n junkyard lyk!)  Ek het dit egter baie geniet!!

Daarna het ons gou ‘n foto of twee van die NG Kerk gaan neem, ‘n pragtige klipgebou wat verskriklik goed opgepas word en ten spyte van die harde karoo son, min tekens van verwering toon! 

Die kuiertjie op die plaas was ook heerlik! Soos gewoonlik het ons ons amper simpel geëet aan al die vleis en moeder se sjokoladekoek en melktert! Nie baie biltong gesien nie, maar die “jagseisoen” op die plaas open eers amptelik Sondag (1 Julie) wanneer die eerste jagters arriveer!

Oppad terug Sondag gou by Clanwilliam-dam gestop – die dam is feitlik vol en dis ‘n asemrowende mooi gesig om hom so te sien!! Blykbaar word daar nou beoog om die dam groter te maak, wat tot gevolg gaan hê dat die pad ook moet verskuif! Sal bietjie navraag doen by die vrinne van Clanwilliam en Citrusdal wat die rede daaragter is!  Die pad verder huistoe was pragtig en gras-groen en mens kan sien van Vanrhynsdorp af tot in Malmesbury dat die streek baie goeie reënval gehad het!

Dis vir my altyd so lekker om Williston toe te gaan vir ‘n naweek (let wel, ek het nie daar grootgeword nie en sal ook nooit daar kan bly nie)! Ten spyte van die feit dat ek “huistoe” gaan, is dit so ‘n welkome wegbreuk van die alledaagse gejaagde lewe! Daar het mense nog tyd vir kuier en stel jou buurman belang in jou welsyn! Hulle het nog ‘n hand-sentrale (nommer asseblief!!), ‘n Vleiskoöperasie, ‘n Handelshuis, ‘n Petrolpomp wat Sondae toe is en slegs 1 OTM in die dorp!  Ek is amper seker daarvan die Posmeester is ook die Burgermeester, die Voorsitter van die Posduifklub, die Hoof-ouderling van die NG Kerk en ‘n vooraanstaande boer!

Daar woon nog mense mense wat elke dag bid vir reën en naby hul Skepper leef! Wanneer jy in die vlaktes sit en so vêr kyk soos wat jou oë kan sien, verlang jy na mense wat jy nie ken nie en gee dit jou brein kans vir briek-aandraai en diep dink oor die dinge wat soms ongesiens verbygaan!

Ek is vandag bietjie flou na die ryery, maar die gasvryheid van die Karoo lê nog vlak in my hart! Tot volgende kuier … bid ek solank saam met julle vir reën!!

Geniet jou week..!

Liefde

xxxRxxx

Kommentaar
  1. Da Mario sê:

    Dit is te mooi vir woorde. ‘n Ander lewe… thanks Rene!

  2. marat sê:

    In Williston gaan ek definitief nog eendag kuier! En in Die Vlieënde Piering oorslaap . . .😀 Ek sal!

  3. Ai, man – dankie dat jy hierdie foto’s met ons deel! Die een van die berge en die reenboog is veral spesiaal. Ek was nog nooit daar nie, maar as ek eers daar was, beland dit nog op my eie top 10 lysie! Ek verlang nou sommer ‘n knop in my keel huis toe.

  4. Die blog het gekom om te bly en krimp ons wêreld. Verlede week was ons saam met Gerrit na ‘n eksotiese strand in die Verre Ooste en die week het ons saamgeloer na ‘n juweeltjie van ‘n plek in die Karoo! Pragtige foto’s René!

  5. Ai julle – dis so lekker om dit met julle te kon deel! ‘n Halwe vreugde word eers vol as jy dit met iemand kan deel…!!!
    Da Mario – jy kan maar sê dit lyk soos ‘n junkyard hoor – no offence taken😉
    Marat – ek dare jou!!
    Boertjie – hou gerus die gaatjie oop vir die Karoo in daai top 10 lysie van jou!
    Jo-Ann – isn’t blogging just gr8?

  6. idiwidi sê:

    Jou nuwe site lyk stunning! Ek wil ook nog graag eendag binnekort Williston toe. Ek het ‘n vriendin wie se ouers daar boer.

    Die B&B lyk ook oulik – ek hou van sulke junk yard plekke – daar kruip om elke hoekie en draaitjie iets interessants weg.

  7. Thea sê:

    Ek sal sorg dat Williston op ons roete is as ons eendag in daai geweste ‘n draai gaan maak. Dit is ‘n pragtige ou kerkgebou René!! Ek sien in my geestesoog ‘n prentjie van ‘n ou veteraanmotor wat voor die Junkyard Theater staan met ‘n “Just married” nommerplaat en ‘n paar blikke wat agteraan die motor vasgemaak is!

  8. Roer sê:

    Hi, ons ry komende Vrydag Karoo toe. Kan nie wag nie. Ons gaan jaarliks. Die eerste keer toe my man my gevat het, kon ek nie verstaan waaroor hy so ‘lief’ is vir die plek nie; maar nou is ek ook al lief vir die hier-gaan-niks-aan plek. Dis goed vir die siel. Dankie vir die foto’s.

  9. Pienk Zuit sê:

    Nee magtag, die wêreld is te klein! My skoonfamilie bly op Williston, en ons gaan gereeld soontoe. En dan ken Idiwidi ook nog mense van daar af. Tussen my, jou en idiwidi ken ons dan waarskynlik meer as helfte van die dorp!

    Terloops, die kerk se toring is glo so kort omdat hulle nie geld gehad het om hom hoër te bou nie.

    Dalk loop ons mekaar nog op ‘n dag in die Palota Taverne raak!

  10. Skoenlapr sê:

    My ma kom van Williston af (haar nooiensvan is Theron), en vandat ek kan onthou, kuier ons vakansies op Williston en Brandvlei. Die familie bly nog steeds daar. Die skroeiende hitte, die absolute koue … ek sien nog die skape wat tussen die bossies ronddwaal … ons het saam skaap geslag, lammertjies se stertjies laat waai, vlakvarke in die middel van die nag geskiet … ek het daardie koppies uitgeklim, dit was ons speelplek.

    Dis ‘n pragtige plek, propvol geskiedenis, kultuur en wonderlike gasvrye mense!

    Dankie Rene dat jy my weer laat onthou het …

  11. Pienk Zuit en Skoenlapr, ek kan nie glo wat ek lees nie! Dat ons nou almal iemand op Williston ken – boonop nog familie ook!! My liewe Lettie!!

    Skoenlapr, die Theron’s is behoorlik gesaai in daai wêreld! Jy sal moet spesifiseer! Ons bure is oom Dirk Jakkals en tannie Trishia Theron! Stiefpa is een van die vele Louw’s! Ek het nie daar grootgeword nie, so ek ken nie almal nie, net so bietjie van die familie en die buurplase se mense! Ai, verlang ek nou huistoe!

  12. minellipienk sê:

    Gewoonlik sê ek: “jy dink seker aan Willowmore of Wolesley” en gewoonlik is dit so. Want niemand weet waar Williston is nie, maar ongelooflik julle WEET!.

    Dis my hart se punt, my tuiste, my plekkie in die son. Dis waar ek gebore is, 12 jaar lank skool gegaan het (13 in matriek) en nog baie baie graag gaan kuier!.

    My ouers boer 45km buite Williston. Ek kan nie nou dadelik dink nie maar sal bietjie gaan hoor wie boer langs oom Dirk Jakkals.

    Skoenlapr, die ander Therons is natuurlik Johanna en Lourens? (Tannie Johanna en Oom Lourens vir my)

    Rene, ek het nog nie die Junkyard theatre gesien nie. Kan nie wag nie…

  13. Minellipienk – stiefpa is Gideon Louw (sy oorlede vrou was tannie Wena) Hulle het vier seuns … Willem, Gus, Gideon (Wit Koos) en Marais. Miskien lui dit ‘n klokkie! Hulle het almal op Williston skoolgegaan! My man se oom, Daniel Geldenhuys, was ook ‘n hele paar jare terug Posmeester.

    • mariana sê:

      Wat is jou man se naam? Hoe oud sou of is sy oom Daniel? My oupa grootjie was Daniel Geldenhuys. Ek probeer meer van my familie uitvind

  14. Skoenlapr sê:

    Rene, Minellipienk … die Therons hier ter sprake is Oom Danie en Tannie Pottie Theron, hul seun Dawie Theron en vrou Elsa boer nog op Abrahamsvlei. Ander familie daar is Oom Appie en Tannie Davina Jordaan … hul seun Ferdie Jordaan en vrou Theresa boer op Rietpoort.

  15. Peter sê:

    Baie interessant, maar ek sal graag méér oor die dorp en distrik wil weet.
    Hoeveel inwoners het Williston; hoe is die klimaat; wat is die minimum en maksimum temperature in die winter en somer; hoeveel reën val daar per jaar; wat is die pryse van erwe, en van huise; is daar huise beskikbaar om te koop (of te huur); waar kry die dorp sy water vandaan; hoeveel water is daar (vir hoeveel inwoners sal daar genoeg water wees); en hoe ver daarvandaan is die naaste dokter, apteek en tandarts?
    Dalk kom tree ek eendag daar af.
    “Lief vir die woestyn”.

  16. Jaco & Annelida Jacobs sê:

    Jis Ja!!

    Williston, wat ‘n bakgat plek!!! Ons is die kinders van oom Dirk Jakkals & tannie Tricia Theron. Jy ken my dalk nie meer nie maar dis, Annelida die jongste. Was die naweek op Williston & soos altyd was dit heerlik!!

  17. Hildegarde Bruwer sê:

    Ons stel belang om bietjie deur die karoo te ry en by julle oor te slaap, maar kry geen kontaknommers of fotos van die kamers op die website nie.
    Sal dit waardeer as jul ons kan inlig van pryse vir dubbelkamer vir 2 mense en of ontbyt ingesluit is.
    Dankie
    Hildegarde Bruwer

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s