Archive for Junie 14, 2007

…basta roetina!…

Posted: Junie 14, 2007 in Uncategorized

brug.jpg 

Ek het nie vanoggend aan my kant van die bed opgestaan nie – ek het afgeskuif tot aan die voetenent en daar afgeklim en slaap slaap gaap gaap twee treë minder badkamer toe gegee…

Ek het nie die warm kraan eerste oopgemaak nie – ek het myself met yskoue winterwater geskok – ek was “instantly” wawyd-wakker…

Ek het nie vanoggend eers my langbroek en toe my knee-highs aangetrek nie, ek het eers die knee highs aangetrek, toe my trui en toe my langbroek…

Ek het nie vanoggend eers my gesig ingekleur en toe die hare drooggemaak nie…

Ek het nie vanoggend my hare laag vir laag eers van onder af van links na regs drooggeblaas nie – ek het sommer regs begin, toe agter en toe links – en dit lyk nogsteeds blink, gesond en netjies…

Ek het nie vanoggend vir my ‘n toebroodjie en tee gemaak en toe die hond kos gegee nie – ek het die hond tot sy groot verbasing, eerste kos gegee én ‘n bietjie melk bygegooi, en glad nie ‘n toebroodjie of tee gemaak nie…

Ek het nie vanoggend dieselfde roete werk toe gery nie – ek het twee blokke boontoe en twee blokke na regs en ses blokke af tot in die besige hoofstraat gery, deur die verkeer en 5 minute later by die werk gekom…

Ek het nie vanoggend vir my vriendin ‘n bos blomme gaan koop soos die plan was nie – maar vir myself, en net een van die rose vir haar gegee…

Ek het nie vanoggend my eie tee by die werk gemaak nie – ek het Red Cappucino tee by die duur coffee-shop op die hoek gaan koop en ook ‘n koppie koffie vir die sekuriteitswag wat in die koue moet staan en diens doen ~ hy het sy spierwit gesonde tande vir my gewys en dankbaar aan die stomende koffie begin teug…

Ek het nie vanoggend eers my handsak neergesit en ‘n halfuur later almal op my vloer gaan groet nie – ek het deur die eerste vloer se kantore gestap, almal gegroet en by die brandtrappe na die tweede vloer gestap en tot almal se verbasing vroegoggend al kom groet en gevra hoe gaan dit…

Ek het nie vanoggend gewag tot die koerant op my lessenaar neergesit word nie, ek het dit by ontvangs gaan afhaal en die twee dames ‘n aangename dag toegewens…

Ek het wel vanoggend soos elke oggend my blog-leesroetine gevolg, omdat dit my inspirasie vir die dag is en my geleentheid gegee het om my Red Cappucino te drink…

En ek plaas nie vandag se blog eers na 12:00 nie – ek doen dit vroegoggend … sodat jy kan sien mens hoef nie by elke oggend se roetine te hou om ‘n goeie dag te hê nie!

My motto vir vandag … relax a little, give a little and live a little!

Geniet ook JOU daggie!

Liefdetjies

xxRxx

Advertisements