Archive for Februarie 20, 2007

…mense…

Posted: Februarie 20, 2007 in Uncategorized

Mense fasineer my VERSKRIKLIK!

Nou die dag sit ek in die haarsalon – my maandelikse “treat” – en terwyl ek sit en wag terwyl die haarkleursel my premature grys-haartjies toekleur – kom daar so nou en dan ‘n interessante tannie in! En sowaar as vet, die eerste ding wat hulle doen wanneer hul daar instap, is ironies genoeg om ‘n spieël te soek! Kan jy nou glo? En onmiddellik word die hare reggehark met die vingers … hoekom verstaan ek nou nog nie! Jy kom kan haarkapper toe om jou hare te sny of te stilleer, hoekom sal jy nou worry oor hoe jy lyk as jy daar instap! Omdat ek my haarkapster van Malmesbury af Durbanville toe agtervolg het, is dit vir my baie lekker om my afspraak vroeg-oggend te maak en dan het ek nog ‘n hele dag wat voorlê wat ek met my nuwe hair-do in Tygervallei kan gaan spog! Ek was my hare die oggend en ry sommer net so met die nat hare tot by haar, net reg om te gaan sit en bederf te word. Geen moeite vir niemand nie – en veral nie vir my wat afhanklik is van my haardroër danksy my natuurlike en weerbarstige krullebos nie! Dis elke oggend ten minste ‘n 20 minute ritueel om die krulle uit te blow-dry, so daardie een oggend in ‘n maand wat ek dit NIE hoef te doen nie, is in opsigself ‘n groter treat as die haarkapster bederf. Hoekom sal ek worry hoe ek lyk as ek daar instap?

Nietemin, terug by die dames in die haarsalon! Buiten dat hulle worry oor hoe hul hare lyk as hul instap – voel hul almal verplig om met die haarkapster te gesels en die haarkapster met haar kliënte? Dis seker die hoofrede hoekom ek agter my haarkapster aan getrek het – omdat sy nie die heeltyd in my ore klets nie! Sy is heel rustig, vra die nodige vrae en doen dan waarvoor sy betaal word!

Ek kyk gisteraand op Kwêla het hulle ‘n onderhoud met ‘n haarkapster wie se naam ek nou helemal vergeet het – hulle vra haar toe of sy met haar kliënte gesels omdat sy regtig belangstel in haar kliënte, en of dit is omdat sy verplig voel! Sy het die vraag baie mooi beantwoord dat sy regtig belangstel, want as sy haar kliënte ken, kan sy hulle behoeftes en persoonlikheid beter verstaan! Ek het nogal begrip daarvoor, maar ek gaan nie na my haarkapster toe om my lief en leed met haar te bespreek nie, ek bespreek dit met my vriendinne!

Het julle al gesien hoe kan haarkapsters SKINDER!? Ek was eenkeer in ‘n haarsalon waar ‘n dame haar hare laat doen het, en toe sy haar voete buite die deur sit, begin die haarkapsters lostrek en beskinder daardie arme mens dat die see haar nie kan skoon was nie!! Vir almal om aan te hoor! Ek het in my hele lewe nog nooit so-iets gehoor nie! Ek het my so geskaam vir hulle part, en net daar besluit ek sal my voete nooit weer in daardie salon sit nie – en het ook nie!!

Ek glo egter streng daarin dat MANS baie meer in ‘n spieël kyk as vrouens! Die slim-nuuskieriges het blykbaar eendag ‘n studie daaroor gedoen en ‘n groot spieël in ‘n hotel se portaal gesit! Agter die spieël was ‘n kamera versteek en volgens daardie opname, het 80% van die mans voor die spieël gaan staan en na hulself gekyk, waar omtrent net 40% van die vroue in die rigting van die spieël gekyk het! Ja julle – ek kon dit ook nie glo nie! Gelukkig het hulle daardie studie nie in Malmesbury se koöperasie gedoen nie – want die boeremanne wat daar ingaan, gee nie ‘n flerrie om hoe hulle in hul plaasklere lyk nie – die boeretannies sou verseker gestop en gekyk het, want hulle sal wil sien of daar iewers plaasstof op hul klere is! Hang seker maar af WAAR jy jou studie doen né! My haarkapster vriendin noem nou die dag net so toevallig dat mans baie meer vol nonsens is met hul hare as vrouens! Nogal interessant né?

My blog se inhoud is vandag sommer bietjie oppervlakkig – maar dis seker die idee agter “my blog”! Hier maak ek mos soos ek smaak! Lekker né?

Dis my 2c vir die dag – hoop die voorspoed verveel jou vandag in oorvloed!

Liefdetjies : René ♥

Advertisements